Leeu-koud. Net kop en maanhare … Dis hoe die manne in die Rooikat-kroeg in Sutherland se hotel die temperatuur in die Namakwa-Karoo beskryf. En ek belowe jou, hulle praat nie strooi nie. Ten spyte van die vuur, stywe doppe Oubies wat die rondte doen, en een van daai paneel-verwarmers in die slaapkamer, vermoed jy waaragtig dat daar dalk ʼn ysbeer of twee in die verlate hoofstraat ronddwaal hier rondom toemaaktyd.
Ons is op pad Fraserburg (of miskien moet ek sê Vrieskasburg?) toe, en wel op die spoor van ʼn ander tipe ‘ysbeer’. Die spesies waarvan ek moet gaan foto’s is sogenaamde ‘ys-swemmers’, en hulle is op pad Nuwedam toe, sowat ʼn uur noord van Sutherland. Die volgende oggend mik ons dus verby die beroemde Sterrewag, met die Jeep se termometer wat bieg dat die kwik hier net voor sonop rondom -8 Grade Celsius hang.
Nuwedam self is nie veel warmer nie. Dié dorpsdam lê weggesteek tussen ysterklip-koppies so 5km vanaf Fraserburg, en vandag is die hele dorp hier, ten spyte van die feit dat die Bokke die All Blacks in die tweede Drie-nasies toets moet pak. Hulle kom swem kyk, maar nie sommer een van daai hierjy galas in ʼn swembad nie. Watwou, dit is die eerste Speedo Afrika Ys-Swem, en hier gaan dit meer oor oorlewing as oor wie gaan wen.
Daar is sowat twee dosyn swemmers wat by die wegspringplek saamdrom. Ses van hulle gaan ʼn myl aandurf, terwyl die ander ʼn meer haalbare 600m gaan swem. “Dis nie te rof nie”, dink ek, maar dis voor ek voel hoe die yslaag teenaan die water se rant onder my voete kraak. En ergste van alles, ek het my onderwater-kamera gebring, en wyd en syd verkondig dat ek die foto’s sommer binne die dam gaan neem.
Ram Barkai, in sy Speedo swembroekie, gryp ʼn groot swembad-termometer en stap die water binne, met my agterna soos ʼn lam op pad slagpale toe. Die rooi lyn kruip stadig op, en kom tot stilstand êrens tussen drie en vier Grade Celsius. Leeu-koud … Ek stuur ʼn stil skietgebedjie op net om dankie te sê dat ek ten minste ʼn duikpak kan dra, maar vloek myself in dieselfde asem omdat ek so onnosel was om my duikskoene by die huis te los.
Die 600m swemmers tree net na 09h00 aan. Hulle swem in groepe van ses om seker te maak dat Medi-clinic se mediese personeel en die lewensredders enige kritiese gevalle kan hanteer. Met verbete uitdrukkings stap hulle die water binne; jou kop moet reg wees om seker te maak jou liggaam gaan nie in skok in nie, en die plan is dat jy ‘soos ʼn ysbeer moet dink’.
Ek dink soos ʼn ysbeer, maar dit help boggerôl. My asem slaan weg, my tone en vingers vries, en my knaters besluit om by my mangels te gaan kuier. Maar ek oorleef dit darem tot die laaste van die groep swemmers oor die eindstreep kruipslag. Van hulle lyk oes; bibberend, struikelend, en sukkel om te praat – jy kan sien hoe die koue tot diep in die been inbyt.
Terwyl hulle in die mediese tent toetse ondergaan –van hulle kern-temperature het geval tot onder 26 Grade Celsius – ontvries ek my voete in die vuur-konkas wat lustig rondom die dam knetter, en kry my kop reg vir die volgende aflos. Uiteindelik, na die 600m manne en meisies hulle ding gedoen het, is dit tyd vir die groot honde.
Daar is ses van hulle – Barkai, Toks Viviers, Andrew Chin, Ryan Stramrood, Kieron Palframan en Theodore Yach – en omdat hulle vir ongeveer ʼn half-uur in die ysige dam gaan wees, is die risiko natuurlik groter dat daar iets met hulle kan verkeerd gaan. Gelukkig is hulle almal koue-water veterane (Barkai hou die rekord vir die mees suidelike swem ooit), maar dit beteken nie dat Nuwedam nie sy tol eis nie.
Volgens Yach, wat onlangs 30km vanaf Drieankerbaai rondom Robben-eiland geswem het, herdefinieer die Speedo Ys-Swem vir hom die konsep van ekstreem. “Vir my het dit gegrens aan die uiterste van wat moontlik is vir die menslike liggaam”, sê hy, “en dit sal ʼn trop wilde perde neem om my weer in Nuwedam te kry”.
Die myl-swemmers se prestasie beteken dat hulle die eerste lede word van die Internasionale Ys-Swem Assosiasie. (Jy moet ʼn myl in water kouer as 5 Grade Celsius swem, slegs in jou pet, swembroekie en brille). En daar het jy dit: indien jy die eksklusiewe rooi IISA rooi baadjie wil dra, moet jy nou tyd in jou vrieskas begin spandeer, want Speedo, Marcus Rohrer Spirulina en Similasan beplan om dié ys-swem verseker weer volgende winter aan te bied.
Gaan kliek op www.speedoiceswim.co.za vir inligting oor dié manne se kouewater-kaskenades.
Publikasie: Buite-Burger (Julie, 2010)
Rubriek: Avontuur – Ys-Swem